JAG BUDDES
JAGGELEENTHEDE
Die Suid-Afrikaanse jagbedryf het jaarliks ’n bruto inkomste van sowat R7,7 miljard. Daarvan dra plaaslike jagters sowat R3,1 miljard by, terwyl internasionale jagters se bydrae sowat R1,2 miljard beloop.
As dan boonop gekyk word na die sowat 12 000 wildsplase in die land, tesame met die sowat 10 000 plase daarvan wat vrystelling het, sê dr. Herman Els van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), kan ’n mens sien dat dit ’n groot bedryf is.
Hierdie groot bedryf draai grootliks om jag, terwyl die bydrae wat verder deur veilings van lewende wild gemaak word baie kleiner is. Dit is dan ook die rede, sê Els, dat jag so ’n groot impak op die bewaring van die groot verskeidenheid diersoorte in Suid-Afrika het.
Volhoubaarheid
“Om te jag, beteken dat die diere volhoubaar benut word. Vir die wildplaaseienaar moet die diere wat hy aanhou, onderhou word om te verseker dat hy ’n inkomste verdien uit jag uit. En om daardie verskillende diersoorte dan aan te hou, moet die eienaar die habitat waarin hulle gedy goed oppas.
“Met ander woorde biodiversiteitsbewaring word beter toegepas omdat dit vir die eienaar ekonomies sin maak,” sê hy.I
n hierdie stadium word sowat 60% van Suid-Afrika se wildlewe in gebiede buite bewaringsgebiede, soos nasionale en provinsiale parke, aangehou. Prof. J. du P. Bothma van die Universiteit van Pretoria wys daarop dat meer as 500 hoëklas-bosherberge (lodges) in Suid-Afrika in bedryf is. Vir talle belanghebbendes is dit ’n teken dat ekotoerisme die weg aandui om die wildlewe in Suid-Afrika volhoubaar te benut en te bewaar.
Els stem egter nie daarmee saam nie. “Hoewel ekotoerisme per hektaar vir die wildplaaseienaar meer inkomste verdien, is die plekke wat hulself daarop toespits, meer gerig op die hoëklas-toeris. Daar is min wildsplase wat ekonomies lewensvatbaar is deur eko-toerisme omdat eko-toerisme in die breë eerder gerig is op buitelandse toeriste. Hierdie toeriste se regstreekse invloed is beperk.
“Hulle sal byvoorbeeld nie geld in landelike gebiede rondom die wildsplaas bestee nie omdat hulle nie soontoe gaan nie. Daar is dus geen verdere voordeel vir omliggende gebiede rondom wildsplase wat op eko-toerisme konsentreer nie,” sê hy.
Ekonomiese voordeel
’n Dier moet ekonomiese voordeel vir die plaas inhou om aangehou te kan word. “Daar heers ’n groot polemiek rondom die jag van geteelde leeus. Hoewel die SAJWV geensins geblikte leeujag ondersteun nie, beteken die jag van geteelde leeus in ’n omgewing waar hulle ’n billike kans het om weg te kom, dat wilde leeus bewaar word.
“Wanneer wilde leeus gejag en ’n leeumannetjie geskiet word, word ses ander leeus in werklikheid ook uitgeroei vanweë die territoriale gedrag van die volgende leeumannetjie wat in sy plek kom.
Bewaringsgewys maak dit sin om leeus wat spesifiek vir jagdoeleindes geteel word, te jag. Op daardie manier word ’n ekonomiese waarde aan die dier geheg. Dan word die bestuur en bewaring van die diere verbeter,” verduidelik hy.
Els wys daarop dat leeuprodukte, soos die vel, bene en vet, drie tot vier maal waardevoller is as ’n lewende leeu.
Dieselfde geld renosters. Waar renosterpryse in die verlede by R320 000 gaan draai het, het dit weens die toename in renosterstropery tot slegs R120 000 per dier gedaal. Volgens Els word die jongste renosterhoringpryse op sowat 60 000 Amerikaanse dollar per kilogram bereken.
“Daarom het die SAWJV ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Regering gedoen om die Konvensie op die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) te oorreed om die verbod op die internasionale handel in renosterhoring op te hef. Ons sit tans met R7 miljard se renosterhorings wat in kluise weggesteek word.
“Terwyl die verbod geld, kan daardie geld nie gebruik word nie. As die verbod opgehef word, sal SANParke genoeg verdien om die nasionale parke te bestuur en dan hoef daar nie hotelle in die Krugerwildtuin gebou te word nie. As boonop in ag geneem word dat daar elke jaar sowat 400 renosters weens natuurlike oorsake vrek, kan hul horings al klaar ’n groot deel van die mark vul,” sê hy.
Suksesvolle bewaring
Vir bewaring om suksesvol te wees in ’n ontwikkelende land, soos Suid-Afrika, moet dit vir die mense ’n regstreekse voordeel inhou, meen Els. Hy wys daarop dat bewaring nie ’n natuurlike verskynsel is nie, maar ’n menslike aktiwiteit.
“Bewaring moet dus vir homself betaal en ongelukkig kan toerisme nie daardie rekening vereffen nie. Toerisme alleen verdien maar ’n baie klein inkomste vir bewaring. Die hoeveelheid inkomste wat jag daarteenoor vir bewaring verdien, beteken dat dit die antwoord is ten einde die bewaring van diersoorte in die land te laat slaag,” sê hy.
Daarom, sê hy, is dit so belangrik dat die bestuur van wildlewe ekonomies van aard moet wees. Dit maak ekonomies gesproke ook sin om met wilde diere te boer aangesien dit makliker is om wild in droër gebiede aan te hou as groot- of kleinvee omdat die wildlewe beter by die omgewing aangepas is. Die produksiekoste is ook laer omdat dit in die meeste gebiede van die land onnodig is om wilde diere in te ent of te doseer teen siektes.
Daarby, sê Els, word dit keer op keer bewys dat waar wildplaaseienaars met ’n ekonomiese benadering begin boer, hulle binne drie jaar ’n etiese en estetiese benadering ook begin volg. Gevolglik word beter na die wild se bestuur en habitat omgesien.
Dit is vir jagverenigings belangrik om ’n beleid te begin opstel wat die aspekte van jag uiteensit. “Dit is moeilik om ’n beleid oor jag op te stel, want ’n beleid is voorskriftelik. Die SAJWV se standpunt is dat as die beleid ten opsigte van jag reg benader word, dit tot ’n groot stap tot die bevordering van bewaring kan lei.
Jagtersverenigings sal byvoorbeeld moet kyk na hoe hulle aspekte, soos ‘fair chase’ en etiese jag, sien. Daardie konsepte moet omskryf word en die enigste manier om by ’n konsep vir iets soos etiese jag uit te kom, is om dit te beskryf. Dit is dan ook waarom die SAJWV die jagterskode opgestel het: Dit is ’n etiese benadering tot jag. Die groot redenasie gaan oor wat aanvaarbaar is en wat nie. Dit is op daardie punt waar jagters met mekaar verskil,” sê Els.
Hy meen dat wat bewaring en jagtersverenigings betref, jagters loshande van die grootste bydraers, geldelik en met hul tyd, tot die bewaringsprojekte in die land is. “Die SAJWV het sowat 30 000 lede en hul bydraes tot bewaringsaksies in die land het in die 2010/’11-boekjaar sowat R4 miljoen bedra. Daardie geld is nie net vir diersoorte aangewend nie, maar is ook gebruik om plante en die omgewing te help bewaar.
“Daarbenewens het die SAJWV intussen ook R100 000 aan die Veterinêre Genetiese Laboratorium (VGL) geskenk om die DNS-databasis vir renosters uit te brei. Daardie databasis kan ’n groot bydrae lewer om renosterstropery te bekamp,” sê Els.
Hoewel geen jagtersvereniging in Suid-Afrika ’n statutêre liggaam is nie, meen Els dat meer jagters hulle by verenigings moet aansluit. “Dit is verkieslik dat jagters hulle by ’n vereniging aansluit, juis omdat jag ’n liefhebbery is. Wanneer jagters by verenigings aansluit, verorden dit die bedryf en plaas dit jou in ’n dampkring van mede-jagters wat etiese jag en bewaring voorstaan. Dit is dus voordelig,” sê hy.
Beroepsjagters
Els voel egter dat die vereniging vir beroepsjagters in Suid-Afrika ’n statutêre liggaam behoort te word aangesien beroepsjagters nie bloot jag vir die genot daarvan nie, maar omdat dit hul beroep is.
“Een van die grootste kwelpunte tans in die jagbedryf is die toename in korporatiewe jagtogte. Dit bly ’n tameletjie vir die bedryf aangesien dit vir die eienaar van die wildsplaas winsgewend is om maatskappye toe te laat om op sy plaas te kom jag.
“Ongelukkig is die milieu wat vir die toetree-jagter geskep word, een van jagtogte wat gepaardgaan met die oormatige gebruik van alkohol, diere wat links en regs gekwes word, en die onveilige hantering van vuurwapens.
"Dit is glad nie hoe ’n jagtog veronderstel is om te wees nie, en ons as die SAJWV is sterk gekant teen hierdie gebruik. In sulke gevalle sal ek sê dat dit die wildplaaseienaar se skuld is en dat daardie gebruik stopgesit moet word,” sê Els.
Hy sê dat jagters die verantwoordelikheid het om jag vir die nageslag te bewaar.
“Jagters gaan nie jag om ekotoeriste te wees nie. En om jag bloot te sien as daardie oomblik wanneer die sneller getrek word, is stompsinnig. Solank die emosionele snare oor jag getokkel word, sal ’n deel van die land se bevolking teen jag gekant wees sonder dat hulle werklik die feite daarvan verstaan.
"Die SAJWV is trots daarop om ’n bewaringsgesig te kan hê en ons roem ons ook daarop dat ons tans die grootste nie-regeringsorganisasie vir bewaring in die land is,” sê Els. --- www.landbou.com/leefstyl/jag-en-gewere/jagbedryf-is-kos-vir-bewaring